NUUSBRIEF – 2DE KWARTAAL 2019

Home / Blog / NUUSBRIEF – 2DE KWARTAAL 2019
NUUSBRIEF – 2DE KWARTAAL 2019

Met die eerste oogopslag gaan meeste van Capicraft se kwartaalstate ‘n baie rustige en vervelige prentjie vertolk. Dit was egter alles behalwe vervelig. Tydens die kwartaal het verskeie politieke en geopolitieke gebeure uitgespeel wat markte op hul tone gehou het. Die vernaamste is die handelsoorlog tussen die wêreld se twee grootste ekonomieë wat skynbaar uit die dood opgestaan het. Dit het die verkiesing hier plaaslik oorskadu en enige herlewing op die JSE vinnig in die kiem gesmoor. Die gemiddelde portefeulje onder Capicraft se bestuur was tydens April-maand meer as 8% sterker, net om meeste van daardie opbrengs prys te gee tydens Mei-maand nadat Donald Trump die inwerkingtrede van addisionele tariewe op Chinese invoere aangekondig het. Junie-maand het ons portefeuljes as geheel stilgestaan soos wat klein kapitalisasie-aandele in ons portefeuljes na nuwe laagtepunte gedaal het, terwyl buitelandse aandele in ons portefeuljes nuwe hoogtepunte aangeteken het – ‘n rolprent wat ons al vantevore gesien het.

 

Wat Junie-maand in besonder frustrerend gemaak het, was dat ons moes toekyk hoe onder andere die goudmyners die JSE-indeks opdruk terwyl die Rand noemenswaardig gestyg het. Laasgenoemde het die opbrengste van ons buitelandse aandele en ook plaaslike randverskansers soos Naspers en Mondi platgedruk. Ook was daar beduidende Pond swakte in die kwartaal wat ons beleggings in die VK onderdruk het. Meeste van hierdie faktore is egter tydelik van aard en kan wel weer ‘n wind van agter wees in komende kwartale.

 

Vir die doel van ons gesprek verder kan ons Capicraft se portefeuljes in (ten minste) vyf dele opdeel:

  1. Buitelandse groeibates
  2. Plaaslike multinasionale maatskappye
  3. Plaaslike hulpbronprodusente
  4. Plaaslike mono-nasionale maatskappye – ook na verwys as “SA inc”
  5. Plaaslike klein kapitalisasie-aandele.

 

Meer as 55% van Capicraft se portefeuljes is tans in die eerste groepering belê – buitelandse groeibates. Hierdie groepering presteer goed in Dollar-terme en het sedert die begin van die jaar 17.42% opgelewer. Dit presteer ook goed in vergeleke met die MSCI-wêreldindeks wat 15.6% sterker is oor die periode. Omdat hierdie die grootste groepering is sou ek meer tyd by die onderliggende maatskappye wou spandeer (en ek sal beslis in komende nuusbriewe meer hiervan deel), maar ons wil graag vir nou by die vlieg in die salf uitkom.

 

Omdat ons reeds groot blootstelling het in die buiteland, het ons dit ook onnodig gedink om teveel maatskappye in die tweede groepering, plaaslike multinasionale maatskappye, te plaas. Die vernaamste is Naspers en Mondi. Albei se beleggingstesis bly onveranderd ongeag waar hulle noteer is.

 

Die derde groepering, plaaslike hulpbronprodusente, word vermy as gevolg van ons langstaande siening met betrekking tot die onvolhoubare, skuldgefundeerde, gesubsidieerde en gemanipuleerde groei vanuit China wat hierdie sektor dryf. Onlangs presteer hierdie sektor egter baie goed omdat China nog ‘n paar “brûe na nêrens” bou en omdat ystererts-aanbod tydelik opgeskort was. Daar word berig dat die koperprys ‘n PHD in ekonomie het. Die werklikheid vir hulpbronaanvraag skop vinnig in as jy ‘n grafiek van die koperprys oproep. Ook het ons baie hulpbronmaatskappye in ons buitelandse portefeuljes wat nie basismetale insluit nie en wat nie so afhanklik is van vervaardigingsgroei in die wêreld of infrastruktuurbesteding in die Ooste nie. Hierdie sluit in uraan-reus Cameco, kunsmis-reus Nutrien en sout-reus, Compass Minerals. Nog ‘n interessante portefeulje-maatskappy in ‘n sektor wat gladnie op ons beurs bekombaar is nie, is Enbridge.  Enbridge besit een van die grootste olie-pypleidingsnetwerke in Noord-Amerika. Hulle beding multi-dekade kontrakte met die olie-reuse wat elke jaar inflasie-aanpassings geniet. As aandeelhouers geniet ons ‘n 6% dividendopbrengs wat oor die mediumtermyn teen +- 10 % per jaar kan groei indien hul nuwe projekte die regulatoriese groen lig kry. Die maatskappy is genoteer onder die Kanadese energiesektor, maar het eerder die besigheidseienskappe van ‘n eiendomsmaatskappy as dié van ‘n hulpbronmaatskappy.

 

Die vierde groepering, plaaslike mono-nasionale maatskappye, sluit aandele in wat vir lank “liefling” of selfs “blue chip” status op ons beurs bereik het. Maar hier is waar die plaaslike ekonomiese realiteite begin inskop. Behalwe vir van hierdie “liefling” aandele wat heeltemal die spit afgebyt het soos EOH, Tongaat en Omnia, is die tipiese aandeel in hierdie groepering op 2012 vlakke. Vir ‘n oomblik in 2018 het dit gelyk of daar ‘n oplewing gaan wees in hierdie sektor, maar die optimisme wat daar met Ramaphoria bestaan het is vinnig ontmoet deur diep strukturele werklikhede. Drie jaar terug het ons ook gesukkel om waarde te vind in die sektor en het daarom ons blootstelling beperk tot aandele soos Pepkor wat ons opgeraap het teen R 16, Santam, MTN, Grindrod en meer onlangs Curro en Combined Motor Holdings. Ander, soos Netcare en Old Mutual, het ons maar van onstlae geraak soos wat die plaaslike werklikhede duideliker geword het. Tog prys “SA inc” se aandeelpryse nog nie ‘n nuwe werklikheid in nie. Dit is dalk ‘n werklikheid van 4.5% inflasie en 2% reële groei, met betreklike hoë rentekoerse. Nie ‘n gunstige omgewing vir welvaartskepping nie. Dit is waarskynlik dat hierdie komponent van ons portefeulje verder aangepas moet word soos wat SA se ekonomiese paadjie duideliker word.

 

Die vlieg in die salf is egter die vyfde groepering – plaaslike klein kapitalisasie-aandele. Waar die groter SA maatskappye nog ‘n mate van likiditeit geniet vanuit ons goed ontwikkelde beleggingsindustrie en nie ‘n moeilike toekoms inprys nie, ervaar die klein kapitalisasiesektor ‘n vlug van kapitaal en gevolglik ‘n likiditeitsvakuum. Ons blootstelling aan hierdie sektor is slegs sowat 10%, naby aan die maksimum wat ons in die sektor sal besit. Die likiditeitsvakuum strek egter tot buite die sektor in die onderste gedeelte van die medium kapitalisasiesektor in. Wanneer ek daardie maatskappye van ons insluit, kom ons by ‘n amper 20% blootstelling. Hierdie uitgebreide groepering het sowat 15% geval sedert die begin van die jaar, wat beteken dat dit sowat ‘n 3% impak op portefeuljevlak gehad het. Vanweë die leemte van kopers, word teleurstellende resultate ontmoet deur ‘n ineenstorting op hierdie aandeelpryse. Die moeilike ekonomie is deels verantwoordelik vir die teleurstellings, maar dit vertel net ‘n gedeelte van die storie. In meeste gevalle is daar allerlei eenmalige en nie-kontant elemente wat die resultate kunsmatig onderdruk. Dit is my ervaring dat meeste klein kapitalisasie-beleggers nie die aandag of bekwaamheid het om deur hierdie syfers te werk nie, en daarom mag dit langer vat vir die pryse om te herstel na so ‘n skok. Ek het met meeste van die bestuur in hierdie groepering onlangs ontmoet om ‘n beter verstaan van die omgewing en hul uitkyk te bepaal. Ek het in meeste gevalle met meer insig en gerustheid weggestap.

 

Op hierdie stadium verhandel meeste van die klein kapitalisasie-aandele op laer waardasies as die waardasies van privaat transaksies buite die beurs. Die omgewing is ryp vir oornames en denoterings, iets wat alreeds aan die gebeur is. Dit maak my opgewonde omdat dit teen groot premies gebeur, maar ook jaloers, omdat dit premies is in ‘n baie bedrukte omgewing en gevolglik winskopies kan wees vir dié gene wat hierdie maatskappye oorneem of privaat neem. Hopelik kan hierdie sektor in die nabye toekoms begin opmaak vir van die onderprestasie die laaste paar jaar. Hopelik kan van die ander onlangse teenwinde ook in agterwinde verander.

 

Goeie portefeuljekonstruksie is egter van so aard dat al die silinders nie sommer almal op een slag vuur nie. Portefeuljekonstruksie skep ‘n balans tussen verskeie scenarios wat kan uitspeel. Dit is ook waarom dit so ‘n moeilike element van die portefeuljebestuur-proses was die laaste paar jaar. Ons moet scenarios konsidereer wat 10 jaar terug, of selfs 5 jaar terug, ondenkbaar geklink het. Dit is waar ons die meeste foute gemaak het die laaste paar jaar, maar ook waar ons die meeste geleer het. Meer belangrik is dit een van die elemente wat ook die meeste waarde gaan toevoeg vir ons portefeuljes in komende jare en dekades. Dit gaan egter nie altyd van kwartaal tot kwartaal sigbaar wees nie.

 

Jou Beleggingsvennoot,

Drikus Combrinck

 

Om die Nuusbrief in PDF weergawe af te laai, klik op die skakel:

Nuusbrief – 2de Kwartaal 2019

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *