NUUSBRIEF – 4DE KWARTAAL 2018

Home / Blog / NUUSBRIEF – 4DE KWARTAAL 2018
NUUSBRIEF  – 4DE KWARTAAL 2018

Ten spyte van ontluikende markte wat reeds onder druk was en die plaaslike ekonomie wat in ‘n resessie was, het die portefeuljes onder Capicraft se bestuur teen einde Augustus op nuwe hoogtepunte gestaan. Ons buitelandse blootstelling het ‘n positiewe bydrae gemaak tot ons plaaslike aandele wat al vir meer as 4 jaar sywaarts beweeg het (die JSE Algehele Indeks het op dieselfde vlakke gaan sluit as wat dit in Julie 2014 vir die eerste keer bereik het). Maar iewers in die derde kwartaal was die mat behoorlik onder internasionale markte uitgeruk, veral dié van die VSA wat tot onlangs toe nog sterk gestaan het en waar ons swaar belê is. Die MSCI wêreldindeks het ‘n nuwe laagtepunt gemaak op Oukersaand, wat genoeg was om die afverkoping as ‘n “beermark” te klassifiseer. Die wêreldindeks en die S&P 500 het met net oor die 20% geval vanaf hul hoogtepunte vroeër die jaar. Die JSE het die jaar 11.4% laer gesluit in Rand terme, maar 23.5% laer in Dollar terme. Dit ten spyte van ‘n goeie herstel sedert die Oukersaand afverkoping. Die herstel sedertdien beteken die MSCI wêreldindeks sluit die jaar laer met 11.3% in Dollar terme.

Dit was beslis die moelikste jaar in internasionale markte sedert 2008/09, die tyd toe die globale finansiële krisis gewoed het. Plaaslike beleggers het dit moeiliker as wat bostaande syfers dit laat blyk. Die JSE eiendomsindeks het 25.2% (dividende ingesluit) verloor in 2018, die klein kapitalisasie indeks is 24% laer as sy 2017 hoogtepunt en buite die klein kapitalisasie aandele is daar meer as 30 groter maatskappye wat meer as 50% laer is vanaf hul hoogtepunte – 10 van hulle is 80% of meer af. Ons is dankbaar dat ons blootstelling beperk was tot laasgenoemde in 2018, maar ons portefeuljes het steeds swaar getrek weens ons blootstelling aan klein kapitalisasie aandele wat as geheel swaar gekry het. As ‘n kantlyn opmerking moet ek noem dat die Algehele Indeks nog sowat 23% laer sou gewees het sou Naspers die laaste 5 jaar slegs die groei van die mark ge-ewenaar het. Ten spyte daarvan het die gemiddelde portefeulje by Capicraft 5.9% beter as die Algehele Indeks in 2018 gevaar. Capicraft se gemiddelde buitelandse portefeulje het die jaar 6.62% hoër gesluit in Rand terme, wat 2.75% beter is as die MSCI wêreldindeks.

Hoe antwoord ek ‘n belegger wat met hierdie feite tegemoet kom? Dalk dieselfde as wat Sir John Templeton op 19 Oktober 1987, ook bekend as “Swart Maandag”, sy kollegas geantwoord het te midde van ‘n beurs wat 27% geval het. Hy het sy gebruiklike middagstappie geneem, terug gekom en almal bymekaar geroep en gesê: “Good news and bad news. The bad news is we’re in a bear market, the good news is, it’s almost over.” Bemoedigende woorde van een van die suksesvolste beleggers van alle tye. Templeton het geweet dat beermarkte moeilik was om te voorspel, en teen die tyd wat jy weet dat jy in een is, is dit te laat om paniekbevange te raak. Eerder was dit ‘n tyd om aggressief te raak te midde van goedkoper pryse. Soos wat finansiële outeur Morgan Housel kwytraak: “Every future decline looks like a risk, every past decline looks like an opportunity.”

Alhoewel beleggers, institusioneel en privaat, geweldige geld, tyd en energie inspan om te bepaal wanneer die volgende groot afverkoping gaan wees, wys empiriese navorsing egter dat dit meestal nie die tyd en energie werd is nie.

Kyk byvoorbeeld na die onderstaande opbrensgste in die VSA aandeelmarkte gedurende, voor en na VSA resessies:

 

Bron: A Wealth of Common Sense, Ben Carlson

 

Dit is duidelik dat jou tydsbereking baie goed moet wees as jy ‘n resessie probeer voorspel. As jy te vroeg is mis jy gemiddeld 5.4%, of soms soveel as 20%, in die jaar net voor ‘n resessie. Waar slim egter sy baas vang, is met die tydsberekening om terug te kom in die mark in na ‘n resessie. Daar is geen klokkie wat lui sodra die resessie verby is nie, en die opbrengse kort na ‘n resessie is gewoonlik die sterkste van ‘n bulmark.

‘n Studie deur Samuel Lee van SVRN Asset Management in Chicago, het gevolglik ‘n tydsberekening strategie getoets waar die beleggers slegs koop nadat die mark ‘n afverkoping ervaar het. Hy het vir afverkopings van 10%, en dan in inkremente van 5%, tot en met 50% getoets oor ‘n periode wat strek sedert 1926. Hy het aanvaar dat die belegger vir 3 jaar die belegging hou voordat die risiko van die volgende afverkoping te groot raak. Die studie het bevind dat jy 1.24% tot 3.43% per jaar beter sou gedoen het deur net ‘n koop-en-hou strategie te volg, eerder as om tydsberekening toe te pas. Maar 3 jaar mag dalk ‘n bietjie kort wees, daarom het hy die studie na ‘n 5 jaar hou-periode ook uitgebrei. Die resultate en die gevolgtrekking was egter dieselfde. ‘n Koop-en-hou strategie sou tussen 2.09% en 3.64% per jaar  beter presteer het as ‘n 5 jaar tydsberekening strategie.

 

 “Far more money has been lost by investors preparing for corrections, or trying to anticipate corrections, than has been lost in corrections themselves.” – Peter Lynch

Behalwe vir beleggers wat opbrengs kwyt raak omdat hulle probeer tydsberekening toepas, is daar beleggers wat opbrengs kwyt raak omdat hulle nie sielkundig voorberei is vir wat ‘n intrinsieke faset van die mark is nie. Die beleggers wat tydsberekening probeer toepas is besig om te voorspel, maar die belegger wat sy beleggings verkoop in ‘n afverkoping is een wat nooit verwag het dat ‘n afverkoping hom of haar sou tref nie. Miskien het die belegger ‘n goed uitgedinkte rasionele beleggingsstrategie in plek, maar wanneer die spreekwoordelike mat onder jou uitgetrek word is dit moeilik vir meeste beleggers om by daardie plan te bly.  In tye soos die, is dit nie die kop wat bepaal of jou beleggingsstrategie werk nie, maar jou rugraat.

 

“Everybody has a plan, until they get punched in the face” – Mike Tyson

Wanneer jy in die gesig geslaan word skop daar ‘n “veg of vlug” instink in. Die belegger voel gedwing tot aksie. Beleggers spring van “swak prestasie” in ‘n bateklas of fonds na “goeie prestasie”. Maar hierdie is reaksie, nie aksie nie.

’n Studie wat deur Dalbar, ‘n finansiële konsultasiegroep in die VSA gedoen word probeer hierdie effek te kwantifiseer. Hulle het probeer bepaal wat die opbrengs verskil is tussen die gemiddelde effektetrust en die gemiddelde belegger in die verskeie effektetrusts. Die verskil spruit uit die  tydsberekening van invloei gedurende, of eerder na, goeie prestasie en uitvloeie gedurende of eerder na, swak prestasie. Die verskil word na verwys as die “gedragsgaping” in die beleggingsindustrie. Dit is die gedragsgaping (nie fooie, belasting of die prestasie van fondsbestuurders) wat die grootste bron van kapitaal vernietiging in die beleggingsindustrie veroorsaak.

 

Bron: Dalbar

 

Periodes soos hierdie is wat jy moet kan verduur om die vrugte op die langtermyn te kan pluk. Goeie langtermyn opbrengste kom nie verniet nie. Dit kom teen ‘n prys, en jy betaal daardie prys in geduld, nederigheid, onsekerheid, vertroue, verveeldheid, teleurstelling, wisselvalligheid en so nou en dan ‘n behoorlike beermark.

Sou jou samestelling of jou omstandighede nie hiervoor geskik wees nie, stel ek voor dat ons jou portefeulje aanpas sodat wisselvalligheid en teleurstelling ingeperk word. Die beste beleggingsstrategie is die een waarby jy kan hou wanneer die vuishoue begin val. Jy gaan egter nooit heeltemal daarvan ontslae raak sonder om jou beleggingsdoelwitte in gevaar te stel nie.

 

“During bear markets, stocks go to their rightfull owners” – John Pierpoint Morgan

Te danke aan die beermark het ons ‘n nuwe aandeel bekom wat al lank op ons radar-skerm is en geval het binne ons koopterrein. Curro skole het die jaar begin rondom R 43 per aandeel en met meer as 45% geval tot so laag as vlakke van R 23. Ons het tussen R 23 en R 25 begin aandele optel. Die aandeel was vir té lank té gewild gewees en dit het nie veel geneem om die swak hande uit te skut nie.

Ons dink Curro is ‘n defensiewe maatskappy wat ‘n resessie restante besigheid het. Hulle handhaaf baie goeie invorderingsyfers, dalk omdat dit een van die laaste dienste is wat ‘n resessie gehamerde familie sal kanseleer. Daarby is daar sigbare omset groei vir ten minste die volgende paar jaar. ‘n Skool word van die grond af vol en tans is daar twee keer soveel Graad 1 leerlinge as matrikulante in Curro skole. Die Gautengse Departement van Onderwys is, na dekades se onderinvestering, nie bevoeg om die groeiende hoeveelheid skool beginners te akkommodeer nie. Die platteland ontvolk en Curro skole is ideaal geleë om die gaping te vul. Tans is daar ‘n mate van leerling-omset, maar die getal behoort af te neem soos wat kapasiteitsprobleme in die skoolsisteem die hoër grade raak.

Curro beoog om ‘n interne opbrengskoers van 25% te verdien op elke skooleenheid. As hulle dit regkry, dan sal Curro se huidige wins minstens vervyfdubbel net op die reeds bestaande skole. Teen die huidige aandeelprys word amper geen nuwe skole of projekte verdiskonteer nie. Die geleenthede vir nuwe skole is minder aantreklik na meeste van die lae hangende vrugte eerste gepluk is. Die vraag na kwaliteitsonderrig by ‘n handelsmerk wat Suid-Afrikaners vertrou het egter nog baie bene, veral met die leemte en die dreigende gevare aan die publieke skool sektor. Curro spandeer baie tyd en geld aan kurrikulum ontwikkeling. ‘n Geweldige kompeterende voordeel teenoor ander privaatskole. Ook is die skaal van hul skole ‘n voordeel, die aantreklikheid van ‘n werknemerspos by Curro, en die relatiewe lae ontwikkelingskoste van ‘n nuwe Curro kampus. Vanweë dié voordele is dit maklik vir Curro om ander privaatgroepe oor te koop in ‘n baie gesegmenteerde mark. Ek kan kwalik aan ‘n aantrekliker opset vir ‘n besigheid dink. ‘n Markleier in ‘n vinnig groeiend gesegmenteerde mark. Dit is nie sonder sy risiko’s nie – emmigrasie seker die vernaamste oor die langtermyn. Die grootste fout wat ons egter hier kan maak is om te duur te betaal. Te danke aan die beermark glo ek ons het nie.

 

Jou Beleggingsvennoot,

Drikus Combrinck

 

Om die Nuusbrief in PDF weergawe af te laai, klik op die skakel:

Nuusbrief – 4de Kwartaal 2018

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *